My verjaardag val toe hierdie jaar op 'n Sondag, en ons het oggend- en aand optredes by kerke, en 'n ete kuiertjie by Ouma in Montana. Besige dag, nie 'n dag waarop mens 'n verjaardag kan vier nie. Dit sou hierdie jaar maar net verbygaan sonder viering, dink ek. Maar in die week vooraf, loop ek 'n mooi wit top raak, met sulke geel blomme op. En ek dink - vir die besige Sondag/verjaardag, gaan ek hierdie vrolike toppie dra.
Ons ry in by Daspoort NGKerk, vroeg daardie Sondagoggend, om die klank op te stel. Toe ek instap sien ek dit - die helder geel doek wat hulle oor die preekstoel getrek het. Met die groot goue ster, en 'n krip met Baba Jesus daarin, op 'n tafel voor die geel doek.
Nog nooit in al hierdie jare, het enige iemand geel gekies om hulle kerk mee te versier vir die Kersdiens nie. Rooi en groen, ja, wit, silwer, selfs pers .... maar geel ...? Nog nooit.
Toe weet ek: die Here stuur vir my 'n boodskap - My kind, ek is lankal hier. Ek het vooruit gekom om die kerk te kom voorberei. Jy pas hier vandag. Jy is net waar Ek jou wil he. So met jou geel klere aan - simbolies van vreugde, en lewe. Ek is by jou, Ek gee jou my Guns. Geniet die feesdag!
Wat 'n verjaardag geskenk, wat 'n voorreg! Dankie, my Here!
|