LIEFDE IS VERNIET
‘n Boer het ‘n paar
babahondjies gehad wat hy wou verkoop. Hy verf toe ‘n advertensie plakkaat en
sit dit voor sy plaashek op. Toe hy nog besig was om die bord vas te slaan,
voel hy skielik iemand trek aan sy baadjie. Hy kyk om, vas in die oë van ‘n
klein seuntjie.
“Oom, ek wil graag een van
oom se hondjies koop” .
”Wel,” sê die boer, “Hierdie hondjies het ‘n baie
goeie ma en pa en hulle kos nogal duur, Seun.”
Die seuntjie laat sak sy kop en dink vir ‘n oomblik. Toe druk hy sy hand diep
in sy broeksak, kom met ‘n handvol kleingeld te voorskyn.
“Sal hierdie
genoeg wees dat ek net kan kyk asseblief Oom? “ vra hy.
“Seker, “ sê die boer. En met ‘n fluit roep hy: “Kom Lady, kom wys jou kinders!”
Uit die hondehok kom Lady, met
vier bondeltjies lomp-lomp agterna.
Die seuntjie druk sy gesiggie teen die draad en sy
oë blink van pure opgewondenheid. Die hondjies is al amper by
die draad, toe die seuntjie nog iets by die hondehok sien roer. Stadig kom nog
‘n bondeltjie te voorskyn, heelwat kleiner as die ander hondjies. Met ‘n mank
sukkelende drafstappie begin die laaste klein hondjie naderkom. Hy probeer sy
bes om die ander in te haal.
“Ek wil hom graag hê ” , sê die seuntjie, en wys met sy vinger na die
kruppel hondjie. Die boer kniel langs die seuntjie en sê: “Seun, jy wil nie
daardie hondjie hê nie. Hy sal nooit kan hardloop en speel soos al die ander
hondjies nie.”
Die seuntjie staan terug van die draad af en begin sy broekpyp oprol.
Stadig begin twee kunsbeentjies wys, wat met ‘n stut vas is, en eindig in twee
kuns skoene.
“Oom Boer sien, ek kan self ook nie te lekker hardloop nie, en hy sal
iemand nodig hê wat dit kan verstaan.”
Met trane in sy oë tel die boer die kruppel hondjie op en gee hom versigtig vir
die seuntjie oor die draad aan.
“Hoeveel kos hy, Oom? “ vra die seuntjie.
“Hy’s verniet, Seun. Hy kos
jou niks. Liefde kos niks”
|