Dis droog.
Ek het met U gepraat.
My gebede is 'n handvol saad - so lank gelede reeds het ek dit in U tuin gesaai.
Ek wag, my Heer.
Die stilte lê Karoo-wyd tussen U en my
Die reën bly weg.
U tap die wolke oor U ander kinders leeg; van my, het U vergeet, terwyl ek bakhand ook 'n druppel bedel ...
Toe hou ek op met kla, en vra vergifnis vir my afguns.U weet mos self wanneer my beurt moet kom!
En so, my Heer, op U eie tyd, breek U die water-aar....
My put raak vol - my windpomp draai al singend in die wind!
Die toegewaaide sand wek U tot lewe
Hoe lieflik blom dit in my paradys!
(Onbekend) |