Naweek vir naweek besoek ons die platteland, en feitlik oral staan sulke wonderlike, statige geskiedkundige kerke sentraal in die dorp.

Hierdie ene staan in Jamestown, net anderkant Aliwal Noord in die Oos Kaap.
Die dorpie self het heeltemal tot niet gegaan. Die mense vertel daar was ‘n skool, en winkels, en selfs ‘n rokwinkel waar jy vir ‘n “fancy” geleentheid, iets baie moois kon koop.
In die konsistorie hang portrette van dominees wat deur die loop van baie jare hulle spore daar getrap het.
Jamestown NG Kerk het hulle 100ste bestaansjaar gevier. Daar is 85 lidmate oor… en vir die naweek se feesvieringe het sowat 150 mense saamgetrek. Dis min, het ek gedink - en sjoe… hoe hou mens jou motivering? Maar ons het beleef dat hierdie groepie mense, alhoewel hulle so min is, ‘n groot hart het vir die HERE en vir hulle kerk.
En dat hierdie plek meer as net kerk is - dis taal, en vriende, dis kuier en kultuur, dis geloof, en vas-ankerplek. Hulle het dit nodig; en hulle lewe met dankbare blymoedigheid!
En ons het gesing, van “Carina” af tot by “Stille Nag” … en die HERE was daar saam met ons, Sy Gees het oor daardie mooi kerk kom hang en ons almal toegevou in liefde.
“Waar een of meer in my Naam saam is… ” daardie woorde het weereens waar geword, verlede naweek op Jamestown.
|