"Mens hoef nie danig ryk te wees, om mooi te kan aantrek nie" , stel Magda ons gerus. Sy was die gasspreker by ons VaaldeGrace goed-voel Damesoggend - 'n gekwalifiseerde voorkoms konsultant, is Magda van Niekerk, in haar sewentigs, en pragtig mooi versorg. 'n Voorbeeld en inspirasie vir ons almal. So kom sy toe ook sommer in my klerekas delf om bietjie raad te gee met die deurmekaarspul. En sy kondig aan: "Jy't eintlik sulke mooi aankope gedoen, jy moet dit nou net begin DRA!!!" En sy tower die mooiste kombinasies op, wat ek nooit eers geweet het ek kan saamgooi nie. So slim.'n Wereld gaan vir my oop.
Magda bly in my kop, die hele Maandag deur. Ek dink - so is dit ook met ons geestelike lewe. Ons sit met die wonderlikste genade-gawes in ons lewens-kas verniet vir ons voorsien deur ons Hemelse Vader ... maar weet ons regtig wat om nou verder daarmee te doen ...? Ek besluit: ek moet my stukkies genade net begin vat, aantrek en DRA. Dis klaar daar!! Mag ons almal in die pinkstertyd net weereens besef hoe baie ons eintlik het aan liefde, en genade, en gawes!!!
|