LEEF NOU
mens kan nie vir altyd sterf nie:
op ‘n dag moet jy jou dagboeke verbrand
én die brûe van die verlede
as jy tot die besef kom dat hulle nie na die toekoms toe lei nie ...
op ‘n dag moet jy vergete ou kennisse
en vasgegroeide ge-ykte gewoontes uit jou lewe verban
hulle houvas afkap - vingers en al
op ‘n dag moet jy teen jou eie pas begin loop,
jouself van ander se mening stroop
alleen gaan fietsry
sonder `n trui omdat die res koudkry
gaan waar jy wil, in stilte –
en in die geheim speel jy’s weer sewe
een goeie dag, moet jy opstaan
- en lewe
|