So gaan ek en Minnette toe gister om ‘n trourokkie aan te pas waarvan sy baie hou.
En daar staan die mooie meisiekind voor my met die verskriklike mooi trourokkie aan… en haar oë!
… die hemel is in haar oë.
Skielik onthou ek, ek het kort nadat ons haar gekry het , destyds in April , (sy is 5 Maart gebore maar was vir 6 weke in die hospitaal onder observasie voor ons haar gekry het) hierdie lied geskryf:
Aprilmaand op sy mooiste en skielik is jy daar:
'n meisiekind, soos ons maar altyd wou
‘n Wasgoed draad vol doeke en speelgoed, wie-weet-waar,
Laat dink my aan Aprilmaand en aan jou…
En ek werk uit, sy gaan net mooi 25 jaar oud wees en in Aprilmaand trou, nogal. Toe onthou ek die res van die lied se woorde:
Aprilmaand op sy mooiste, die huweliksklokkies lui
Nog nooit was daar ‘n bruid so mooi soos jy
blomme in jou hare, die hemel in jou oë …
Die dae met my meisiekind – verby
Seisoene verander, dit kom en dit gaan
Dis hoe ons die lewe moet verstaan:
Net maar vir ‘n oomblik is jy myne, net maar vir ‘n wyle naby my
Tel die goue ure van ‘n mooi gety, dit gaan so gou verby
Eendag roep die lente ook my bloeisel, een dag maak die somer jou ‘n vrou
O, dan moet jy gaan – sal ek verstaan –
Net maar vir ‘n oomblik
naby jou
Dis wonderlik. Die Here het ons 25 jaar gelede , met die skryf van hierdie woorde, al voorberei hoe dit sou gebeur, ek het dit net nie toe al besef nie.
|