"... na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die Ooste in Jerusalem aangekom" (Matt 2:1)
Die wyse manne het volhard in hulle soektog na die Koning wie se ter hulle gesien het. God het hulle geroep op hulle eie lewensvlak en in terme wat hulle ken: deur die verkyning van 'n ster. Hulle was immers sterrekykers, geleerde priesters van hulle volk. Nou volg hulle die ster om die tweede Adam, Jesus die Messias, te aanbid en aan Hom hulde te bring.
Die ster was vir hulle die begin van die lig, want hulle was nog kinders van die duisternis. In gehoorsaamheid het hulle die ster gevolg en wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God berei vir hierdie sterre-troebadoers.
Hulle is deur die ster bekoor, sodat hulle die Kindjie kon vind. So roep God en soek God: Hy roep die wyse manne met 'n ster; Hy roep die skaapwagters met engelekore. God se sondaarsliefde gee aan ons sterre om ons te lei en ons dank God vir die sterre. Maar ons mag nie in verwondering by die sterre bly staan nie. Dis maar die begin van die verlossingsweg. Ons moet van die ster na die Woord gaan; van die woord van God in die natuur, na die woord van God in die Skriftuur.
Uit: Elke more nuut deur Solly Ozrovech
|