
Elizabeth Fourie het ‘n diep spoor getrap op die terrein van Afrikaanse kinderliedjies. ‘n Verskeidenheid van cd’s en dvd’s sorg vir baie ure se vreugde in menige huis, oor die afgelope 30 jaar. Komposisies soos “Morsjors” , “Dierbare Ouma” en “Ek is bly ek ken vir Jesus” het volksbesit geword. Verskeie van haar liedjies is opgeneem in die nuwe weergawe van die F A K, Liedboek van die kerk, en VLAM. Skole landwyd sing gereeld Elizabeth se liedjies in eistedfods, koor-kompetisies, en kunsfeeste. Heelwat van haar liedjies maak op grond van die opvoedkundige aard daavan, deel uit van die curriculum en leerplanne by skole.
MY BESTE JESUSLIEDJIES is ‘n paar jaar gelede uitgereik as ‘n eerste album onder Elizabeth se eie handelsmerk, E F MUSIEK. Dit het dadelik die aandag getrek en is deur die ATKV met ‘n spesiale Lier toekenning vereer. Dis in totaal ‘n eiehandige poging - behalwe vir twee of drie tradisionele liedjies, is alles deur haarself gekomponeer en gesing.
“Ek wou graag ‘n kinderalbum uitreik waardeur ek my blydskap in die HERE met kinders, en sodoende ook met hulle ouers, kon deel. Dis vir my ekstra spesiaal dat dit juis hierdie album is, wat nou goue status bereik het. ‘n CD gerig is op kleiner kinders, in Afrikaans, en boon-op Chistelik, het ‘n beperkte mark en dit maak die prestasie vir my soveel groter.
Baie dankie aan Lydia Winchester vir die passie en entoesiasme waarmee sy JESUSLIEDJIES bemark het, en vir die hulp en ondersteuning van SMD en CUM BOEKE met die verspreiding daarvan. Ek kan ook nie nalaat om vir Lulu van der Walt, wat die verwerkings en opnames hanteer het, geluk te wens nie. Die liedjies het elkeen ‘n aansteeklike en kindervriendelike aanslag wat sekerlik ‘n groot bydrae maak tot die sukses van die album.”
Met die verrassende reaksie op JESUSLIEDJIES, is ‘n tweede album onlangs uitgereik – MY BESTE JESUSLIEDJIES 2 - alles ook oorspronklik deur Elizabeth geskryf.
“Ek is baie trots op my bydrae en nalatenskap van oor die 100 oorspronklike Afrikaanse kinderliedies.Baie mense kan bestaande liedjies oor en oor gebruik en opneem – maar om elke keer met iets splinternuuts te kan kom, is ‘n talent wat ek koester en waarvoor ek die HERE elke dag eer.”
Elizabeth tree gereeld by kerke en skole op met ligte- sowel as geestelike liedjies. Kontak haar op www.francois-en-elizabeth.co.za, of vir Lydia Winchester by 082 554 8453 |