MEDIA VRYSTELLING
Datum: Junie 2013
Uitgereik deur: EF
Musiek
Vir meer inligting,
kontak Lydia Winchester:
Tel: 011 475 2187;
Sel: 082 554 8453; E-pos: lydiaw@mweb.co.za
ELIZABETH
FOURIE – SAAMSING LIEDJIES
2013 is ‘n super-spesiale jaar vir Elizabeth Fourie. Nie net het sy pas
ouma geword nie, maar sy het ook twintig liedjies (waarvan talle haar eie)
opgeneem op die bruisende nuwe album, Saamsing
Liedjies. En om alles te kroon, word sy later vanjaar deur die Vereniging
van Voorskoolse Onderwys en Sorg (VVOS) vereer vir haar bydrae tot
kindermusiek.
Elizabeth en Francois Fourie se dogter, Minnette, het onlangs aan hul
eerste kleinkind, Johan Chris Heunis die lewe geskenk. “Ek het by Minnette gaan
bly om bietjie te help aan die begin. Tot my verbasing het Johan sy ogies
oopgemaak en sy koppie na my gedraai, die oomblik toe ek vir hom begin sing het.
Ek het al gewonder of ek my expiry date
met die kinderliedjies bereik het, maar toe ek sy reaksie sien, het ek besef:
ek het nog BAIE werk!”
Saamsing Liedjies is – soos die titel aandui – gemik op van
babatjies tot kinders van so tussen vyf en elf jaar oud wat luidkeels kan
saamsing. Die vrolike verskeidenheid sluit in bekende én tradisionele liedjies
asook ‘n hele paar nuwe komposisies deur Elizabeth. Altesame sewe van haar
kinderliedjies is immers onlangs in die nuwe FAK Sangbundel opgeneem. “Dit bewys dat my kinderliedjies
volksbesit geword het en dit is vir my ‘n besonderse nalatenskap om te kan hê.”
Van die nuwe liedjies deur Elizabeth, wat op Saamsing Liedjies ingesluit is, is Die Lekkergoedliedjie, Spokie Karnaval, Die Koekoek Klokkie en Gym Liedjie. Dan het sy ook bekende
liedjies in klein medleys verwerk, elke keer rondom ‘n spesifieke tema. Soos Paddatjie, waar al die liedjies oor
paddas handel. Daar is ook twee verwerkings in Engels en Sotho onderskeidelik.
“ ‘n Skooljuffrou het vir my die woorde van O
die liewe Marthatjie in Sotho gestuur, asook My hartjie my liefie. Té kostelik.” Dit is dan as Mangwane Mpulele ingesluit en die
Engelse liedjie is The Rockstar Twinkle
Song.
Francois, die ander helfte van die gewilde sangpaar wat al dertig jaar
lank gehore landwyd vermaak, sing hier en daar saam, behartig van die
agtergrondsang en “geluide”. “Die kinderliedjies was altyd maar my afdeling,
maar daar is soveel kindertjies wat deesdae sonder pappa grootword, dat ek dink
dis goed om hulle deur middel van musiek ‘n balans te gee wat dit aanbetref.”
Volgens Elizabeth is dit belangrik dat kinders met die liedjies kan
assosieer. “Hulle moet dit maklik en vinnig kan leer. En die inhoud van die
woorde moet uit hul leefwêreld kom. ‘n Kind van drie kan nog nie ‘n liefdeslied
waardeer nie. Ek verpes dit as kinders ryp gedruk word met grootmens-musiek.”
Dit is voorwaar ‘n “kinderjaar”, want Elizabeth beplan reeds daardie
“lang verwagte” kinder-DVD en Jesus
Liedjies 2 volg ook later vanjaar. Intussen kan kind en kraai, ma, pa,
oupa, ouma en selfs juffrou saamsing met die tintelende treffer-album, Saamsing Liedjies.
|