Ek onthou nog goed hoe ons Sondae-middae uit die F A K Sangbundel gesing het, toe ons nog kinders was. Mamma Jantina voor die klavier, en sommer so in die lekkerkry van die liedjies, word ons geleer van diksie, frasering en asemhaling. My sussie Greta en ek het die gawe van twee stemme wat perfek saamsmelt - vandag nog. En so het ons die volksliedjies leerken, en ons eie stemme opgemaak soos ons aangaan: soms is ek die sopraan, en soms weer my sus. En soms gaan een sommer diskant toe. Goeie tye... mooi herhinneringe! Ek is seker hierdie geliefde sangbundel het in vele huise net soveel plesier gebring.
Die F A K vier volgende jaar sy 75ste bestaansjaar en deel van die Feesvieringe, is die uitreiking van 'n nuwe, gemoderniseerde Sangbundel. Intussen het Afrikaanse musiek in so 'n mate gegroei dat daar 'n skatkis van nuwe, inheemse en eietydse liedjies geskryf is. Nie minder nie as agt van my eie komposisies is ook gekeur vir die nuwe boek. Liedjies soos Wil jy dans Carina, Daarom (ps 16) en 'n hele string kinderliedjies word deel van die liedereskat en volksbesit. Ek is so trots en dankbaar vir die talent om dit te kon skryf, en vir die erkenning wat op so 'n manier na my toe kom!
Hou die pers dop vir inligting. Die album se uitreiking word in November 2012 beplan, saam met 'n lekker musiekfees deur van die mense wie se liedjies opgeneem gaan word.
|